Dokumentêr-opdrag 2018

Sluitingsdatum 31/10/2018

Kanaal: kykNET

Genre: Dokumentêr

Taal: Afrikaans

Tydsduur: Tema & konsep sal bepaal

Aantal Episodes: Tema & konsep sal bepaal

Begroting: Tema & konsep sal bepaal

Oorsig:

In die afgelope paar jaar het enkel programme en reekse in die Dokumentêr en Factual Entertainment Genre plaaslik en internasionaal opspraak gemaak.  kykNET is op soek na vars idees vir dokumentêre reekse en enkel programme wat unieke en relevante stories vertel wat op internasionale spieëlvlak kan meeding. 

Die populariteit van onlangse reekse soos Wild Wild Country, Casting Jon Bonet, die Oscar wenner – Icarus en Leah Rimini: Scientology and the Aftermath het bewys dat die dokumentêre genre nie net ‘n nuwe koers ingeslaan het in terme van die invalshoek nie, maar ook in terme van kreatiewe benadering nie.  Hierdie reekse kompeteer selfs met van die wêreld se mees suksesvolle drama reekse.

 

Oorspronklikheid:

Slegs oorspronklike en unieke voorstelle wat resoneer met die Afrikaanssprekende teikengehoor sal oorweeg word. Die verwerking van bestaande of oorsese konsepte is nie welkom nie.

 

Die Proses:

Fase 1:

‘n Goeie dokumentêre reeks vereis deeglike navorsing en deurdagte beplanning.  Dit is krities dat jou voorlegging ‘n gedetailleerde konsep omskrywing, met duidelike temas, keerpunte en karakter uiteensettings bevat.  Bewys van beskikbaarheid en toegang tot karakters, instansies, kenners en argief materiaal (indien relevant) sal integraal wees tot die sukses van jou voorlegging.  ‘n Realistiese projek tydlyn asook oorhoofse kostes moet ingesluit word by die voorlegging.

Fase 2:

Suksesvolle voorleggings sal oorweeg word vir ‘n navorsing & konsep-ontwikkeling ooreenkoms.

Fase 3:

Produksie kontrak word uitgereik aan suksesvolle vervaardiger/s

 

Vereistes:

  1. Vul Kreatiewe Konsep-templaat in (op inhandigingsportaal beskikbaar)
  2. Vul Begrotingstemplaat in (op inhandigingsportaal beskikbaar)
  3. Vul bogenoemde templaat aan met ’n professionele voorleggingsdokument (in .pdf) wat die volgende inligting vervat:
  • Die konsep & reeks of program sinopsis, die oorhoofse tema en premis, ‘n uiteensetting van die karakters/kenners asook die  voorgestelde storielyne en ontwikkeling van die tema
  • Volledige lys van voorgestelde sleutelpersoneel met ’n kort opsomming van hulle ondervinding, en motivering vir hul betrokkenheid by die projek
    • Vervaardiger/s
    • Regisseur/s
    • Navorsers & Skrywers
    • Kenners & Spesialis deelnemers
    • Rekenmeester
    • Produksiespan

 

Maatskappy Inligting:

Verskaf asseblief die volgende inligting saam met jou .pdf voorlegging.

  • Maatskappy registrasienommer; BTW registrasiesertifikaat;
  • Kort opsomming van produksies wat tydens die laatste 5 jaar vervaardig is
  • Verwysings (verskaf minstens 2)
  • Huidige BEE status

 

Bepalings en Voorwaardes:

  • kykNET behou die reg om een, meer as een of geen voorstelle te aanvaar vir oorweging nie.  kykNET behou ook die reg om die proses op enige stadium te kanselleer.  Die vervaardiger aanvaar hiermee dat die uitreiking van hierdie tender nie vir kykNET onder geen verpligting plaas om die proses deur te voer nie, ook nie om enige besluit te neem in verband met die uitreiking van die tender nie.
  • kykNET is onder geen verpligting om na afloop van die evaluasieproses ‘n kontrak aan enige van die  Vervaardigers uit te reik nie.  kykNET behou die reg voor om die tenderproses in enige stadium te stop sonder om ʼn rede daarvoor te verskaf en aanvaar geen aanspreeklikheid van watter aard ook al in verbinding met die tender of die onttrekking daarvan nie. kykNET is onder geen verpligting om enige kostes wat deur die Vervaardigers aangegaan is, te dek nie.
  • kykNET se aanvaarding van die voorlegging is slegs ‘n voorneme om dit te oorweeg.  Dit is geensins ʼn waarborg dat die voorlegging gekontrakteer gaan word nie. Gevolglik, sal alle mondelinge of skriftelike kommunikasie tussen kykNET en die Vervaardiger/s oor die onderwerp van die tender, die voorlegging et al gedurende die evaluasie- of onderhandelingsproses, geensins wetlik bindend wees nie. kykNET het geen verpligting van enige aard teenoor die Vervaardiger tot tyd en wyl kykNET ‘n kontrak uitreik vir die vervaardiging van die produksie waarvoor daar getender word nie.
  • kykNET is onder geen verpligting om redes vir enige besluit wat geneem word ten opsigte van die tenderproses aan enige party bekend te maak nie.
  • Geen gunste en gawes van die Vervaardigers, of verteenwoordigers van die Vervaardigers wat deelneem aan die tenderproses van kykNET, sal aanvaar word nie.
  • kykNET se besluite ten opsigte van enige tendervoorlegging sal baseer word op die inligting wat deur ʼn vervaardiger in sy tendervoorlegging verskaf word. Die inligting moet akkuraat en volledig wees. Derhalwe is die korrektheid van die Vereistes, Bemagtigingsbeleid, produksie-  en korporatiewe inligting wat deur die Vervaardiger  verskaf word van uiterste belang.  In die geval dat daar gevind word dat enige van hierdie inligting foutief of onvolledig is, behou kykNET,  in sy uitsluitlike en absolute diskresie, die reg voor om alle kommunikasie en verdere onderhandelinge met die Vervaardiger onmiddellik te beëindig.

Submit an Idea